Art club
D.F. Malherbe se Kunsklub het, aan die begin van 2023 tot stand gekom. Talentvolle leerders het in hordes ingestroom om by hierdie soeke na kunsige vervulling aan te sluit. Ons het onmiddellik besef dat die Kunsklub nie net vir ‘kuns’ gaan wees nie, maar ook om ‘n verskeidenheid van kreatiewe persoonlikhede te ontgin en te ontwikkel.
Leerders kom twee keer per week bymekaar om nuwe tegnieke aan te leer en sodende bestaande talente te slyp. Terwyl ons saam ‘n verbeeldingswêreld ondersoek, sal geen leerder agtergelaat word nie. Hulle word geleer om die belangrikheid van hul gereedskap, papier en mediums te verstaan, hoe om verf te meng, en dies meer. D.F. Malherbe se kernwaardes word in ag geneem wanneer leerders mekaar se meesterstukke bestudeer. Dit word met ‘n strook van empatie, ‘n skakering van respek, ‘n fyn lyn van integriteit, ‘n mate van verantwoordelikheid en ‘n paar druppels uitnemendheid bespreek.
Die leerders bars omtrent uit hulle nate van opwinding om hulle kunswerke by die jaarlikse Kunstefees uit te stal en los op dié manier baie kunsgangers sprakeloos en in verwondering. As die bestuur van die Kunsklub, beoog ons om die betrokke leerders aan meer geleenthede (wat hulle op ‘n kunsvlak kan bemagtig), bloot te stel.
In die woorde van die Kunsklub: ‘Happy Sketching!’
